environment: devv2

Lorem Ipsum is simply dummy text of the printing and typesetting industry. Lorem Ipsum has been the industry's standard dummy text ever since the 1500s

listen to Land en Sand

Land en Sand
Land en Sand

Land en Sand

News

Land en sand: Karla Pretorius

Sy is Suid-Afrika se voorste netbalspeler, en is al aangewys as die beste netbalspeler in die wêreld. Karla Pretorius het onlangs haar uittrede aangekondig, kort na afloop van die Statebondspele in Engeland, ná 'n suksesvolle loopbaan van byna twee dekades as Protea-netbalspeler. Sy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor die hoogte- en laagtepunte in haar loopbaan, en die uitdagings in haar persoonlike lewe, soos ‘n miskraam.

41:53

Land en sand: Koos Roets

Op 83 jarige ouderdom begin die legendariese regisseur en kinematograaf, Koos Roets, een van die dae weer aan 'n rolprent skiet. Hy is pas deur die Silwerskermfees vereer vir sy lewenslange bydrae tot rolprente in Suid-Afrika. Koos het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy kleurvolle en suksesvolle loopbaan, wat op 'n jong ouderdom saam met nog 'n legende, Jamie Uys, begin het. Koos vertel onder meer van Koöperasietories, Manakwalanders, Faan se Trein, sy ervarings saam met Jim Reeves, en sy groot liefde vir vliegtuie.

01:21:07

Land en Sand: Anita Venter van Niekerk

Op negejarige ouderdom is Anita Venter van Niekerk se lewe as 'n plaaskind, uitmekaar geruk toe sy op hulle Oos-Vrystaatse plaas 'n dubbele verkragting oorleef het. Boonop het haar ma haar gevloek, verskree en mishandel. Anita vertel haar lewensverhaal - wat 'n aborsie, alkoholisme en erge trauma insluit - in haar boek, SKADUMEISIE - 'N VERHAAL VAN OORLEWING EN GENADE. Dis Vrouemaand, en geslagsgeweld is in die kollig. Sy het land en sand met Pieter Steyn gesels.

01:28:15

Land en sand: Amore Bekker

Sy het vir 33 jaar lank uitgesaai - die laaste 20 jaar op RSG, waar sy besonders gewild was onder die luisteraars. Die afgelope drie jaar is Amore Bekker steeds besig met haar reis na binne. Amore het land en sand in haar huis in Johannesburg met Pieter Steyn gesels oor kruispaaie, verganklikheid en verlies, hoe sy skaapmis van vagte wol in Nieu-Seeland moes aftrek, haar "Griekse tragedie" en hoekom die binneland van haar menswees, voortdurend ondersoek en ontdek moet word.

01:20:27

Land en sand: Anneliese Burgess

Elke Sondag lees duisende mense Anneliese Burgess se roerende, rou, eerlike en interessante nuusbriewe, wat sy as redakteur van die aanlynpublikasie, BinneLand, skryf. Sy is 'n veteraanjoernalis wat in 'n stadium ook by RSG gewerk het. Sy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor haar jongste boek oor Roelf Meyer, haar herinneringe van die onteiening van haar ouers se plaas, toe sy die familiewoordvoerder was tydens die Oscar Pistorius-verhoor, en die voortslepende Afrikanerdebat.

01:29:07

Land en sand: Frederik van Dyk

Daar is min mense jonger as 30, wat briefskrywers, meningsvormers en Jan en San Publiek so die harnas kan injaag as die Johannesburgse prokureur en kommentator, Frederik van Dyk. Sy jongste artikel 'n week of wat terug in Rapport, het weer talle mense die pen laat opneem. Hy is ook die medestigter van die aanlynpublikasie, Ontlaer, waar 'n verskeidenheid menings oor 'n wye spektrum, gepubliseer word. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor links, regs, konserwatief, progressief, slagofferskap en kulturele identiteit.

01:22:45

Land en sand: Willie Aucamp

Hy het in 'n Dopper-pastorie groot geword, en sy gunsteling Psalm is Psalm 100 - Juig al wat leef. Maar moenie dat dit die indruk skep dat hy nonsens van enigiemand vat nie. Willie Aucamp is nou byna 'n maand lank Minister van Landbou. Hy het in sy kantoor in Pretoria, land en sand met Pieter Steyn gesels oor die skikking in die hofsaak teen sy departement, moeilike personeellede, of dit waar is dat jy jare terug op pad ANC toe was, en waar die beleid oor leeuboere staan toe hy sy vorige ministerspos ontruim het.

48:53

Land en sand: Jan-Jan Joubert

Hy's 'n greelde stem op 'n verskeidenheid RSG-programme. Jan-Jan Joubert is 'n joernalis, skrywer, politieke ontleder en historikus wat geen bekendstelling nodig het nie. Wanneer Jan-Jan op RSG gesels, stroom die SMS'e in. Jan-Jan is deesdae besig met sy doktorsgraad in geskiedenis in Nederland, en het onlangs tydens 'n besoek aan Suid-Afrika, land en sand met Pieter Steyn gesels. Hy vertel van sy gestremdheid weens erge komplikasies met sy geboorte, wat hy van die John Steenhuisen/Tony Leon-debakel dink, waarom sy doktorsgraad oor Afrikaners is, en toe hy ’n fout gemaak het toe hy vlagman was tydens 'n rugbywedstryd.

01:09:04

Land en sand: Reandi Grey

As kind het sy haar ouers grys hare gegee, en tog was sy tegelykertyd só skaam dat sy dramalesse moes neem om uit haar dop te kruip. Deesdae speel sy Kupido as aanbieder van die Boer soek ’n vrou-televisiereeks. Die ironie van die saak is dat Reandi Grey self nie lank genoeg kan stilsit om na ’n TV-program te kyk nie. Sy het land en sand met Pieter Steyn gepraat oor alles van haar eerste TV-rol tot haar man en twee dogtertjies.

01:10:30

Land en sand: Daniel Lötter

Resensente beskryf hom as een van die beste storievertellers in Afrikaans. En as jy die afgelope jaar of drie Op en Wakker geluister het, kon jy sy stories oor koninklikes, rare karakters, gedaantes en gedoentes en dwarstrekkers hoor. Daniël Lötter se boeke word opgeraap, en sy nuwe boek, DOUWENIS, word eersdaags bekendgestel. Daniël het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy grootwordjare in die Karoo, hoe hy byna kansel toe is, sy boeke, sy kortstondige loopbaan in die polisie en politiek, en sy uitsaailoopbaan hier en in Europa.

53:28

Land en sand: Cobus Bester

Hy was jare lank die vertroude stem wat vroegoggend nuus en aktualiteit vir RSG luisteraars gebring het. Cobus Bester het vir meer as 37 jaar by die SAUK gewerk, en was jare lank die aanbieder van Monitor. Sy loopbaan by die SAUK het by televisie begin, voor hy uiteindelik die sakeredakteur geword het, en toe die aanbieder van Monitor. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels.

01:29:11

Land en sand: Max du Preez

Hy het nog nooit as Afrikaner bedank nie, en sê daar is geen sin daarin dat hy sy Afrikanerskap ontken nie. Maar dit beteken nie dis sy enigste identiteit nie. Max du Preez is ’n dwarstrekker, en is al langer as 50 jaar 'n joernalis in Suid-Afrika. Sy jongste boek, Aanstap Boere, het pas verskyn. In hierdie 100ste Land en Sand-onderhoud, het Max vir Pieter Steyn vertel van die trauma om sy ma op vierjarige ouderdom te verloor, hoe die Soweto-opstande van 50 jaar gelede 'n keerpunt vir hóm en Suid-Afrika was, of Steve Biko en Flip Buys iets gemeen het, en hoekom hy in Ierland letterlik met sy broek op sy knieë moes vlug.

59:45

Land en sand: N.P. van Wyk Louw

Uit die argief: Hy word tot vandag toe beskou as een van Suid-Afrika se grootste digters en denkers. N.P. van Wyk Louw sou vandeesmaand 'n 120 jaar oud geword het. In 1966, toe Van Wyk Louw 60 jaar oud was, het 'n voormalige bestuurder van die Afrikaanse Diens van die SAUK en later regter, Kowie Marais, met Van Wyk Louw gesels oor sy lewe, werk en denke.

02:04:28

Land en sand: Rocco de Villiers

In die skadu van Platberg by Harrismith, het Rocco de Villiers gedroom om mense te vermaak. Hy en sy Tannie Polla het gereeld konserte van kunstenaars soos Lance James, Bles Bridges en Wena Naudé in die statige stadsaal van Harrismith gaan kyk. Vandag is Rocco een van die gewildste kunstenaars in Suid-Afrika en hy skroom nie om op klein dorpies, gehuggies of groot verhoë, gehore te vermaak op die klawers, of met sy stories nie. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels.

01:11:52

Land en Sand: LJ en Irvette van Zyl

Polio en 'n bromponie-ongeluk kon nie keer dat dr. LJ en Irvette van Zyl albei topatlete in die wêreld word nie. LJ, wat steeds die 400 meter hekkies-rekord hou, het onlangs sy doktorsgraad verwerf. Irvette hardloop oor twee weke die Comrades Marathon, nadat sy verlede jaar 'n gouemedalje losgehardloop het. LJ en Irvette het land en sand met Pieter Steyn gesels oor hulle loopbane, waar hulle ontmoet het, en van die hoogte- en laagtepunte in hulle lewe.

54:12

Land en sand: Wouter Kellerman

Hy is een van ‘n paar Suid-Afrikaners wat verskeie Grammy-toekennings op sy kerfstok het. Hy het al intieme konserte vir wêreldleiers gegee, en 'n hele paar keer voor 'n vol Carnegie Hall in New York gespeel. Wouter Kellerman is 'n Suid-Afrikaner wat onder miljoene mense wêreldwyd bekend en geliefd is. Wouter het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy Grammytoekennings, sy loopbaan as ingenieur, enkelouerskap, waarom hy uit die NG Kerk geskop is, internasionale roem, en die moord op sy pa.

01:08:55

Land en sand: Peter de Villiers

As 'n laerskool-laaitie het hy gehoor hy sal nie eendag vir die Springbokke kan speel nie, omdat hy bruin is. Toe besluit hy hy sal dan eendag die Springbokke afrig. Peter de Villiers is nie op sy mond geval nie, en sy uitsprake het hom dikwels in die warm water laat beland. Peter het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy grootwordjare, sy loopbaan as Springbok-afrigter, omstrede uitsprake, gevegte destyds met SARU, sy politieke loopbaan, en die dood van sy vrou en dogter.

57:42

Land en sand: Ansie Venter

Sy is al deur top internasionale bewaringsorganisasies vereer vir haar werk teen renoster- en ander wilde diere wat gestroop word. Vir dekades het adv. Ansie Venter in die spesiale "renosterhof" in Skukuza, in die Krugerwildtuin stropers en hulle opdraggewers, suksesvol vervolg... 'n 100% suksessyfer. Ansie het onlangs afgetree. Sy het Land en Sand met Pieter Steyn gesels oor haar passie om misdadigers agter tralies te kry, die vervleging van georganiseerde misdaadkartelle en hoe sy 'n pronkerige prokureur op sy plek gesit het, toe hy haar "ounooi" genoem het. Hier is 'n uittreksel.

01:21:06

Land en sand: Jannie du Toit

Min Suid-Afrikaanse kunstenaars kan spog met 'n loopbaan van meer as vyf dekades, en nog is het einde niet! Die troebadoer, Jannie du Toit, vier vanjaar sy 55ste jaar op die verhoog. Jannie het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy loopbaan, vriendskappe en samewerking met Koos du Plessis, Lukas Maree, Coenie de Villiers, Christa Steyn en 'n swetterjoel ander kunstenaars hier en oorsee. Hy vertel ook hoe Anna Neethling-Pohl vir lank aaneen kon swets, en hoekom hy uiteindelik die regsberoep verlaat het.

01:06:19

Land en Sand: Geordin Hill-Lewis

Sy eerste politieke pos was om Helen Zille se motorbestuurder te wees. Vandag is Geordin Hill-Lewis die DA-leier én burgemeester van Kaapstad. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy vergadering met president Cyril Ramaphosa, wat hy van Mmusi Maimane se termyn as DA-leier dink, of hy 'n sosiale demokraat is, en hoekom Taylor Swift sal "bepaal" of hy as 'n goeie burgemeester gereken sal word.

44:37

Land en sand: Faan en Dirk van der Walt

Hulle het nooit daarvan gedroom om miljardêrs te word nie, veral nie toe hulle gereeld hulle pa moes help om die gesinsmotor se enjin reg te maak nie. Faan en Dirk van der Walt, die twee broers wat WeBuyCars gestig het, het onlangs byna R900 miljoen se aandele in die maatskappy verkoop. Faan en Dirk het land en sand met Pieter Steyn gesels oor hulle kinderdae, hulle sekuriteitswag-pa en onderwyser-ma, hoe hulle elke dag ’n koei moes melk, en hoe hulle begin het om winskopies in die destydse Junk Mail te soek.

59:15

Land en sand: Carl Niehaus

'n Anti-apartheidstryder, wat bo sy vermoëns geleef het, leuens vertel het en toe moes bieg en verskoning vra. Carl Niehaus is 'n politikus wat byna geen Suid-Afrikaner koud laat nie. Carl het land en Sand met Pieter Steyn gesels oor sy grootwordjare, hoe hy en sy vorige vrou, Jansie, AK47's en kleefmyne in 'n Peugot gesmokkel het, die leuens waaroor hy gebieg het, sy uitval met oudpresident Jacob Zuma, en watter land hy beskou as 'n ideale land wat navolgingswaardig is.

01:18:02

Land en sand: Nianell

Sedert sy haar verstand gekry het, het Nianell die besondere stem wat gehore in vervoering het. Tog, ondanks die stem en die verhoogpersoonlikheid, was sy eintlik baie onseker, en het die lewe haar 'n hele paar houe toegedien. Nianell se memoir, A Song That's Yet Unsung, het pas verskyn. Sy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor haar grootwordjare, egskeiding, spirituele buiteliggaamlike ervarings, en die gawe om helderhorend te wees.

01:33:02

Land en Sand: Dr. Jaco Deacon

Dr. Jaco Deacon is al beskryf as onderwys se geheime wapen. Jy hoor hom gereeld op RSG as daar oor onderwyssake gesels word. Jaco is die uitvoerende hoof van die skoolbeheerliggaam-organisasie, Fedsas. Pieter Steyn het land en sand met hom by sy huis in Bloemfontein gepraat oor die minister van onderwys, die verlammende rol van die onderwysvakbond, SADOU, hoe jy 'n kameelperd vang, en waarom hy tevrede is met die Bela-wette.

01:24:30

Land en sand: Marlene le Roux

Die imposante KunsteKaap-tetaterkompleks vier vanjaar sy 55ste bestaansjaar. Dit was eers as die Nico Malan-teater bekend. Boonop word die gewilde Suidoosterfees in April weer by KunsteKaap aangebied. Die formidabele Marlene le Roux is die afgelope dekade die bestuurshoof van KunsteKaap. Sy het land en sand met Pieter Steyn gesels, en roerend vertel hoe sy op drie maande polio gekry het, hoe die kerk haar aanvanklik nie wou doop nie, 'n breingewas, die dood van haar gestremde seun, en egskeiding kort daarna, en hoekom sy haarself nie as 'n slagoffer beskou nie.

01:44:12

Land en Sand: Dr. Danie Odendaal

Hy praktiseer vanjaar al 40 jaar lank as ’n veearts, en word as een van Suid-Afrika grootste kenners beskou wat grootvee betref. Dr. Danie Odendaal is deesdae in die nuus oomdat hy nie doekies omdraai oor die grootste bek-en-klouseer-uitbreking in die land se geskiedenis nie. Hy is ook deur minister John Steenhuisen afgedank as lid van die taakspan wat oor die uitbreking moet adviseer. Danie het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy afdanking, wat hy reken gedoen moet word, die meer as 200 veeartspraktyke reg oor die land wat vir hom data oor veesiektes stuur, hoekom hy verkies om met vee te werk, die tyd toe hy in Brittanje gepraktiseer het, en sy liefde vir wetenskap.

01:17:40

Land en sand: Albe Grobbelaar

Elke weeksoggend skuins na agt, skuif die meetserstorieverteller, Albe Grobbelaar, agter die mikrofoon in om ons te vertel van die een of ander interessantheid uit die verlede. Historiese Almanak is al byna drie jaar terug op RSG, waar dit die eerste keer in 1982 uitgesaai is. Historiese Almanak is onlangs as 'n boek, Historiese Almanak: Onthou jy nog?, uitgegee. Pieter Steyn het land en sand met Albe by sy huis in Bloemfontein gesels oor die boek, sy aanvanklike predikantsdroom, die keer toe hy te veel sopies gevat het voor 'n regstreekse TV-nuusoorskakeling, en hoe om 'n SAUK-streekradiostasie op die been te bring.

01:29:42

Land en sand: Willie Spies

Ná hy byna twee dekades terug uit die politiek getree het, keer die prokureur Willie Spies terug politiek toe, as burgemeesterskandidaat vir die Vryheidsfront Plus in Tshwane. Willie het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy kandidatuur, Pretoria se naamsverandering, hoe 'n misdaadslagoffer vir 20 km op sy enjinkap gery het, sy kliënte soos Paul O'Sullivan en Twatterbaas, en die Kill the boer-hofsaak.

01:41:46

Land en Sand: Prof. Fanie Snyman

Die vrou in die ampte van ouderling en predikant in die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika maak steeds groot opslae nadat die sinode 'n vorige besluit herbevestig het, dat vroue geensins in dié ampte mag dien nie. Die NG Kerk en Hervormde Kerk het al meer as drie dekades gelede vroue toe dié ampte toegelaat. Pieter Steyn het land en sand met die voormalige dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van die Vrystaat, professor Fanie Snyman, gesels oor onder meer vroue in die kerk, sy ontmoetings met FW de Klerk, Nelson Mandela en Desmond Tutu, en hoe hy as kleuter vir 'n rotstuin vol vetplante gepreek het.

01:19:34

Land en Sand: Ben Booysen

Vandag, byna presies vyf jaar gelede, het speurkaptein Ben Booysen afgtree nadat hy die Krugersdorp-moorde, wat wêreldwyd opslae gemaak het, opgelos het. Die bose Cecilia Steyn en haar makkers, Marinda, Marcel en Le Roux Steyn en Zak Valentine is vonnisse van honderde jare opgelê vir die wrede moorde wat hulle in die naam van geloof gepleeg het. Ben het land en sand met Pieter Steyn gesels oor dié moorde, sy keuring vir die Drakensberg-seunskoor toe hy op skool was, sy ondersoeke na omstrede polisiehoës soos Richard Mdluli en Berning Ntlemeza, en die bomaanval wat hy oorleef het.

01:46:19

Land en sand: Dr. Annelise de Vries

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vier vanjaar sy 117de bestaansjaar. Volgende jaar publiseer een van die Akademie se kommissies, die Taalkommissie, die jongste uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - 110 jaar nadat die eerste uitgawe verskyn het. Pieter Steyn het land en sand met die bestuurshoof van die Akademie, dr. Annelise de Vries, gesels. Sy is die jongste uitvoerende hoof in die Akademie se geskiedenis. Sy praat onder meer oor Algemene Afrikaans, of Standaardafrikaans soos dit bekendgestaan het, Afrikaans en sy politieke verlede, en wat linguistiek met Julius Malema te doen het.

01:30:40

RSG Bekbasaar: Land en sand - Chris Pappas

In 2021 het Chris Pappas vriend en vyand verbaas toe hy as die burgemeester vir die uMngeni-munisipaliteit verkies is. Dis nou vyf jaar later, met plaaslike verkiesings wat later vanjaar sal plaasvind. Chris het land en sand met Pieter Steyn gesels in sy burgemeesterskantoor in Howick in KwaZulu-Natal se Middelande. Hy praat oor waarom sy bynaam in Zoeloe Wit Rot is, wat hy aangetref het vyf jaar gelede toe hy as burgemeester oorgeneem het, sy boerbokboerdery, en wat hy van die MK Party in KwaZulu-Natal dink.

01:08:07

RSG Bekbasaar: Land en sand - Johan Badenhorst

Hy het al byna 60% van die lande in die wêreld besoek, en neem kykers gereeld saam op sy reise. Johan Badenhorst van Voetspore skrik nie vir kilometers in 'n viertrekvoertuie, malaria, of moeilike beamptes op grensposte nie. Pieter Steyn het land en sand met Johan gesels oor sy reise, sy pa wat 'n private tutor vir Zoeloekoning Goodwill Zwelithini was, sy vriend Pieter Pieterse, en hoe hy op skool ‘n korrespondent vir die Afrikaanse radiodiens was.

01:12:33

RSG Bekbasaar: Land en sand - Theo Venter

Vir byna 40 jaar al ontleed hy verkiesings en politieke gebeure op RSG en televisie. Prof. Theo Venter is ’n deurwinterde kenner van die politieke landskap. In sy huis op Potchefstroom het Theo land en sand met Pieter Steyn gesels oor politiek, sy spotprentversameling, jag, en waarom hy nie die brief van die 44 Afrikaners onderteken het nie.

02:04:07

RSG Bekbasaar: Land en sand - Annelien Pienaar

Haar kookboeke is só gewild, die verkope daarvan het in 'n stadium die gewilde Kook en Geniet verbygesteek. Die voedselwetenskaplike, sjef en entrepreneur, Annelien Pienaar, se eerste kookboek, Boerekos met ’n Twist, is al sewe keer herdruk, en kenners meen haar boek oor vleis is nie net 'n resepteboek nie, maar ook 'n ensiklopedie oor vleis. Pieter Steyn het land en sand met Annelien gepraat op haar plaas naby Hartbeespoort oor kos, die wetenskap van kook en bak, en haar groot Facebook-groep waar sy byna dag en nag raad gee en vrae antwoord.

01:18:59

RSG Bekbasaar: Land en sand - Donnalee Roberts & Ivan Botha

Donnalee Roberts en Ivan Botha is een van Afrikaans se mees geliefde akteurspaartjies. Binnekort kan kykers die tweede seisoen van hulle gewilde dramareeks, EEN KEER OM DIE SON, op kykNET volg. Ivan en Donnalee het land en sand met Pieter Steyn gesels oor die reeks. Ivan vertel hoe ’n rugbybesering tot sy loopbaan as akteur gelei het, hulle tyd saam in 7DE LAAN, hulle egskeidings en hulle kinders.

01:03:57

RSG Bekbasaar: Land en sand - Ryk van Niekerk

Elke weeksmiddag hoor jy hom skerp vrae vra in RSG Geldsake met Moneyweb. Ryk van Niekerk is onlangs bekroon met die Sanlam Sakejoernalis van die jaar-toekenning. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor die liefdesverhale wat hy onder 'n skuilnaam vir vrouetydskrifte geskryf het, van die groot bedrogspulle wat hy oopgevlek het, en oor sy pa, die oudminister van landbou, Kraai van Niekerk.

01:10:17

RSG Bekbasaar: Land en Sand - Kallie Kriel

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, vier in 2026 sy 20ste bestaansjaar. AfriForum en sy leiers het die afgelope twee jaar onder skerp kritiek deurgeloop, onder meer oor hulle besoeke aan Amerika en meningsverskille oor Afrikaans en Afrikaners. Pieter Steyn het land en sand met AfriForum se bestuurshoof, Kallie Kriel, gesels oor hierdie kwessies, sy dae as KP-lid van die studentraad van Tukkies, wat AfriForum doen as hulle nie betrokke is by ideologiese debatte nie, en wat hulle ledetal dryf.

02:09:33

RSG Bekbasaar: Land en Sand - Mike Bolhuis

Hy is nie ’n man wat sonder handskoene aangepak moet word nie. Die privaatspeurder en TV- persoonlikheid, Mike Bolhuis, is berug daarvoor dat hy nie doekies omdraai nie. Ook nie in sy eerste boek met die stories van valskermsoldate wat onlangs vrygestel is nie. Mike het op sy kleinhoewe buite Pretoria, land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy geloof, sy swakheid vir parfuum, en van die berugte mense wat hy al ondersoek het – van advokaat Barbie en Dirk Prinsloo tot Louis Liebenberg.

01:32:12

Land en sand: Petrus Vaalbooi

Petrus Vaalbooi, die man wat in Dawid Kruiper se ikoniese voetspore volg as leier van die San-raad van Suid-Afrika, dra ’n swaar erfenis op sy skouers. Hy is bekommerd oor die wankelrige toekoms van sy moedertaal, Nxu. Petrus het tussen die rooi Kalahari-duine, naby die Namibië-grens, land en sand met Pieter Steyn gepraat. Hy vertel waarom hy die naam Boesman bo San verkies. Hy verduidelik ook hoe die jakkalsaltaar werk, ’n ritueel waar ’n paartjie by mekaar vlerksleep en uiteindelik trou.

51:12

Land en sand: Brand Pretorius

Hy was ’n sakeleier wat deur die destydse Financial Mail-redakeur, Barney Mthombothi, as ’n fontein van kennis en menslikheid beskryf is. Hy het ’n reuse rol gespeel om Toyota in Suid-Afrika die markleier in voertuigverkope te maak. Brand Pretorius se passie is leierskap en mense. Hy het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy suksesse by Toyota, hoe hy bankrot McCarthy-maatskappe met miljarde rande se skuld omgedraai het, en hoe sykouse hom uit ’n penarie gered het.

01:14:00

Land en sand: Herman Mashaba

Hy was eens 'n vurige ondersteuner van die ANC, het later die brug na die DA oorgesteek, en die laaste paar jaar het hy sy eie politieke party, Action SA. Herman Mashaba is 'n multimiljoenêr-sakeman, wat sedert hy die politiek betree het, gereeld sy oponente die harnas injaag. Herman het land en sand met Pieter Steyn gesels in sy huis in Johannesburg oor sy grootwordjare toe sy ouer susters hom groot gemaak het, sy ma wat skelm saans vir hulle in Hammanskraal kom kuier het, die verbysterende sukses van sy maatskappy, Black Like Me, en hoekom hy saam met die ANC werk, al het hy gesê hy sal nooit weer nie. Hy speel ook 'n stukkie klavier.

01:46:22

Land en sand: Freek Robinson

In 1975, vanjaar 50 jaar gelede, was daar vir die eerste keer televisieuitsendings in Suid-Afrika, hoewel dit nog toetsuitsendings was. Die legendariese uitsaaier en joernalis, Freek Robinson, het in 1975 by SAUK-TV begin werk. Freek het land en sand met Pieter Steyn gesels oor sy liefde vir vis-skiet in die see, die debat tussen Nelson Mandela en FW de Klerk waarna 800 miljoen mense gekyk het, die dag toe hy amper sy lewe verloor het in Soweto, en vele ander groot nuusgebeure waarvan hy 'n getuie was. Ook sy dae as aanbieder van Praat Saam op RSG.

01:05:26
Close

No one likes ads!

Switch to our ad-free tier today and get unlimited access to live TV / Radio, VOD, AOD and Catch Up content with zero commercial breaks.

Save video to ...