Lorem Ipsum is simply dummy text of the printing and typesetting industry. Lorem Ipsum has been the industry's standard dummy text ever since the 1500s
listen to Die Reine Wynheid
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Vergenoegd Löw
S2E18: Die verhaal begin in 1696. Met die harde werk en passie van die span by Vergenoegd Löw onder leiding van besturende direkteur Corius Visser, wynmaker Vusi Da li Cuba en uitvoerende sjef Michelle Theron bou hulle op die honderde jare se sukses. Ons hoor meer van die geskiedenis van die plaas, die wyn, die kos, die eende, die belang van regeneratiewe praktyke, en geskiedkundige strukture soos die herehuis wat in 1773 gebou is.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Boplaas en gelukkige foute
S2E17: Boplaas het Suid-Afrikaanse wyn- en spiritualieëgeskiedenis gemaak as die eerste produsent wat kampioenstatus vir Kaapse port, brandewyn en whisky binne 'n 12-maande-tydperk verower het. Dit maak hulle drievoudige kroonwenners. Carel Nel, Kaapse Wynmeester en eienaar van Boplaas Familiewingerde, en seun Daniel Nel vertel van gelukkige foute en 'n diep famliegeskiedenis wat gelei het tot ikoniese produkte . André Schwartz vertel van ’n Suid-Afrikaanse stoep en soesjie in Japan as ‘n tiener.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Muratiewyn en murasies
S2E16: Dr. Rijk Melck van Muratie-wynlandgoed vertel van sy familiegeskiedenis so ver terug as die Duitse soldaat, Martin Melck, wat in Junie 1746 in die destydse Simonsbaai aangeland het; Ansela van de Caap en Lourens Campher se liefdesverhaal; en sy pa Ronnie en die spinnerakke wat tot vandag toe 'n ou almanak bewaar. Sjef Mynhardt Joubert vertel van sy gunsteling kos-en-wynervaring.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - 'n Fees van Amfora
S2E15: Suid-Afrika se eerste Amfora Wynfees vind einde Augustus plaas. Louis Strydom van Ernie Els Wyne, Hannes Nel van Lourensford en Tim Hoek van Haute Cabrière verduidelik hoekom hulle van hulle wyne in amfora verouder. Pedro Ribeiro van Portugal en Federico Manetti, wie se familie in Italië sedert die 1800’s met klei werk, vertel ook van die gebruik van kleipotte. Danie Niehaus gesels saam oor sy gunstelingwyn langs sy gunstelingdam buite Robertson.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Miles Mossop Wyne
S2 E14: Tussen die branders en die wingerde het Miles Mossop sy talent as wynmaker ontwikkel. Sy wyne is 'n familie-affêre, met sy vrou se kuns en inspirasie van sy kinders. Miles vertel vir Martelize Brink hoe hy wyn gemaak het vir een van die top wynhandelsmerke in Suid-Afrika terwyl hy terselfdertyd aan sy eie wynetiket gewerk het. Marlelize het ook vir Erns Grundling oor sy wynavonture uitgevra.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Meerlust - Die plesier van die see
S2E13: Hoe bereik 'n Suid-Afrikaanse wyn wêreldwye ikoonstatus? Dié ikoon is Meerlust Rubicon. Keldermeester en besturende direkteur, Wim Truter, verkope- en bemarkingsbestuurder Deidre Taylor, en die skrywer van MEERLUST: BEYOND THE RUBICON, Emile Joubert, praat oor die geskiedenis van Meerlust, en die impak van agt generasies op die plaas, so ver terug as 1756. Anna-Mart van der Merwe gesels oor haar gunstelingwyn.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Die grootse Kleine Zalze
S2E12: 'n Wingerd wat soos 'n heilige ervaring vir die wynmakers is, verskeie ouwingerd blokke vir hulle bekende Chenin Blanc, en ongeveer 75 wyne wat uit hulle stal kom - Martelize Brink gesels met Kleine Zalze se vier wynmakers, RJ Botha, Nataleé Botha, Hanri Ferreira en Carla van Wyk. Sandra Prinsloo vertel van 'n baie spesiale Pinotage.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Tygerberg
S2E11: Ons verken die Tygerberg-gebied saam met argeoloog dr. Marius Breytenbach en die Kaapse Wynmeester, dr. Winifred Bowman. Hulle bespreek die geskiedenis van boerdery in dié gebied, en die begin van die ryk wyngeskiedenis, insluitend die geskiedkundige Meerendal-wynplaas.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid – Kleinood
S2E10: Ons vat die pad na die hartjie van Stellenbosch, en besoek die idilliese plaas, Kleinood, waar Syrah seëvier in die middel van Cabernet Sauvignon-wêreld. Wynmaker en wingerdboukundige Lawrie Moore bied 'n intieme wynproe aan in die vatverouderingskelder. Sarel Seemonster, Karel Kraai en Lochner de Kock maak ook 'n draai.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Nuwe wortels
S2E9: Carmen Stevens wyne, Compagniesdrift, Zoetendal en Visio Vintners praat oor hulle sukses in weerwil van groot uitdagings. Hulle spreek ook hulle hoop uit vir die toekoms van wyn in Suid-Afrika. Mel die Storieverteller gesels oor haar gunstelingwyne.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Die Reine Veritas
S2E8: Ons gesels oor wynkompetisies, onder meer die Veritas en Jong wyn-toekennings, met Christo Pienaar, Bennie Howard, De Wet Viljoen en die persoon wat jare lank alles agter die skerms bymekaar hou, Elsabe Ferreira. Joernalis en skrywer Jan-Jan Joubert vertel van sy liefde vir Suid-Afrikaanse wyn, al besoek hy Europa.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid Die Sultan van Sauvi
S2E7: Die Sultan van Sauvi, Bartho Eksteen, en sy seun, Pieter Willem, besoek Die Reine Wynheid. Bartho vertel van sy Duitse voorvader, wat in 1702 in Suid-Afrika aangeland het, hulle grootword jare op Franschhoek, sy pionierswerk in Walkerbaai, en Pieter Willem se wyn en liefde wat floreer op tuisbodem en in Argentinië. Aktrise Mienke Ehlers gesels oor haar gunsteling wyn, en braai op haar pa se stoep.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid – Die Nuy-vallei
S2E6: Ons vat ons die pad na die pragtige Nuy-vallei buite Worcester, waar wingerde reeds in 1905 aangeplant is. Keldermeester Christo Basson, hoofwynmaker Paul Burger, bemarkingsbestuurder AC Goodger, kelderwerker Pokane Sello en produsent Stephan Hamman vertel van die geskiedenis, watter kultivar daar aard en die Keeromdam wat die gebied van water verskaf. Akteur en dramaturg Christo Davids vertel watter wyn hy die meeste geniet.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Charles Back en sy Fairview
S2E5: Legende Charles Back en wynmaker Charl du Plessis vertel van Fairview, Charles se familie geskiedenis, die Spice Route, hoekom kaas op die plaas, en sy positiwiteit in weerwil van 'n aanval agt jaar gelede. Kurt Darren vertel wat sy gunstelingwyn is.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Rocksterre in die wingerd
S2E4: Onafhanklike wingerdboukundige Marko Roux van Hexbergkwekery en dr. Etienne Terblance, wingerdboukundige, bestuurder by VinPro en mede-eienaar van Thistle and Weed, verduidelik aan Martelize Brink wat in die wingerd gebeur, watter kultivars goed in Suid-Afrika aard, en hoe jy die geharde, minder bekende kultivars aan die Suid-Afrikaanse verbruiker verkoop.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Doolhof
S2E3: Hulle is onder meer bekend vir hulle Malbec wat al met die wêreld se bestes in die top 10 aan tafel gesit het. Aan die voet van die Limietberg en Groenberg verwelkom ons die talent en roeping van wynmaker, Rüdger van Wyk, en die passie van Mercia Plaatjies wat gebore en getoeë is op die boetiekwynplaas, Doolhof op Wellington.
RSG Bekbasaar: Die Reine Wynheid - Vind die fout én kwaliteit in jou glas
S2E2: Hoe smaak 'n gekurkte wyn? Wat is die algemeenste fout wat tegniese wynkonsultante in die bedryf sien? Hoe presenteer 'n kwaliteitwyn in die laboratorium? Kom vind die fout én die kwaliteit in wyn saam met Martelize Brink en haar gaste Loftie Ellis en dr. Carien Coetzee. Hulle proe ook sogenaamde foutwyne. Martelize loer ook in by Van Loveren om uit te vind hoe groot die skade is ná die onlangse vloede. Sanger Willem Botha vertel wat sy gunstelingwyn is.
RSG Bekbasaar: S2E1: Die Reine Wynheid - Perdeberg, van koöp tot handelsmerk
Die Huis van Chenin Blanc open die tweede seisoen van Die Reine Wynheid. Gerhard van der Watt, Niel Groenewald en wingerdboukundige Johann Smit van Perdeberg gesels met Martelize Brink oor hoekom Chenin Blanc in die area floreer, die rol van droogland en hoe hulle sedert 1941 'n koöperasie omskep het in 'n kompeterende, kwaliteithandelsmerk. Armand Aucamp van Noordwyk vertel meer van sy gunsteling wyn.
RSG Bekbasaar: EPISODE 20: Die Reine Wynheid - Wat by Elsenburg gebeur...
In die laaste episode van die eerste seisoen kuier Abie Rossouw, Koos Jordaan en Eugene van Zyl in die ateljee. Hulle gesels oor wingerd- en wynbou-opleiding by die ikoniese landbou opleidingsinstelling, Elsenburg. ‘n Paar alumni vertel ook hulle gunsteling stories van hulle tyd by Elsenburg.
RSG Bekbasaar: EPISODE 19: Die Reine Wynheid – ‘n Koel klimaat
‘n Koel klimaat is ideaal vir Pinot Noir en Chardonnay. Ons verken die pionierswerk deur vierde generasie Paul Clüver en sy familie in Elgin, en dapper besluite deur Hannes Storm van Storm Wyne in die Hemel-en-Aarde vallei.
RSG Bekbasaar: EPISODE 18: Die Reine Wynheid – Die toekoms van Ken Forrester-wyne
Mnr. Chenin, Ken Forrester, en die wynmaker van die handelsmerk wat hy persoonlik gekies het, Shawn Mathyse, is Martelize Brin k se gaste. Ken verduidelik hoekom hy Chenin Blanc gekies het, die groot waagstuk op ‘n plaas wat hulle nie kon bekostig nie, en wat hy in Shawn gesien het om eendag by hom oor te neem. Ons proe die ikoniese FMC Chenin Blanc, en Shawn se Grenache-hartsprojek.
RSG Bekbasaar: EPISODE 17: Die Reine Wynheid – 55 Jaar op die Stellenbosch Wynroete
Reis saam op die Stellenbosch Wynroete wat hulle 55ste bestaansjaar vier, met Frank K. Smit van Spier, Johan Malan van Simonsig en Victor Sperling van Delheim. Hulle voorgangers en ouers het die roete gestig. Die bestuurder van die roete, Elmarie Rabe, vertel van die 200 plase wat deel vorm van een van die gewildste toeristebestemmings in Suid-Afrika.
RSG Bekbasaar: EPISODE 16: Die Reine Wynheid – La Motte
Die keldermeester, die eerste broodsommelier in Suid-Afrika, die sjef, die storieverteller en die bemarker trek van Franschhoek na die Bekbasaar-ateljee, en bring die oes van La Motte saam. Martelize Brink praat met hulle oor die plaas se geskiedenis, die onlangse brande, pryswennende Semillon en die verskillende aspekte wat dié bestemmingsplaas aan besoekers bied.
RSG Bekbasaar: EPISODE 15: Die Reine Wynheid – Wat soek die mark?
Wat koop die verskillende generasies in Suid-Afrika, en watter wynkultivars moet in die toekoms geplant word vir volhoubaarheid? Rene Groenewald, Kaapse Wynmeester en produkspesialis by W Cellar, en Jacques Steyn van Jordan drink wynkultivars van Griekeland en ’n agaveproduk, wat met verskillende soort kaas geproe word.
RSG Bekbasaar: EPISODE 14: Die Reine Wynheid – Die baanbrekers
Die een het ‘n professionele tennisloopbaan in Amerika gaan volg, terwyl die ander twee reeds van kindsbeen af geweet het wynmaak is hulle roeping. Drie van Suid-Afrika se beste wynmakers en baanbrekers vir vroue in die bedryf gesels oor die huidige oes en hulle bekroonde loopbane. Rianie Strydom van Cavalli en Strydom Familie-wyne, Elunda Basson van Steenbergwyne en Izele van Blerk van KWV besoek Die Reine Wynheid.
RSG Bekbasaar: EPISODE 13: Die Reine Wynheid - SA se superproewers
Welkom by Wynproe 101 met twee van Suid-Afrika se superproewers, dr. Winifred Bowman en Conrad Louw. Hoe proe jy wyn? Hoe bly professionele wynbeoordelaars objektief? Hoeveel duisend wyne proe hulle per jaar? Ons vind uit watter wonderwêreld op hierdie proewers wag. Dit sluit selfs 'n vertikale 50 jaar wynproe in die Pous se woonstel in!
RSG Bekbasaar: EPISODE 12: Die Reine Wynheid - Sauvignon Blanc ontmasker
Goedkoop, homogeen en moet altyd “vars” gedrink word. Ons keer die wanopvattings van Sauvignon Blanc op sy kop saam met David Nieuwoudt van Cederberg Wyne en Ghost Corner, Karlin Nel van Vrede en Lust, en Lukas Wentzel van Groote Post Vineyards, almal deel van Sauvignon Blanc SA.
RSG Bekbasaar: EPISODE 11: Die Reine Wynheid - Ikoon, Kanonkop
Kanonkop is reeds drie keer aangewys as die wêreld se mees bewonderde wynhandelsmerk. Die mede-Eienaar en bestuurshoof, Johann Krige, en die nuwe bedryfshoof, Louw Strydom, gesels met Martelize Brink oor die wynfokus op die plaas, drie wynmakers wat elk in die verlede aangewys is as internasionale wynmaker van die jaar (Abrie Beeslaar meer as eenkeer) en dat hulle dié ikoon toeganklik wil maak vir alle wyndrinkers.
RSG Bekbasaar: EPISODE 10: Die Reine Wynheid - Die Malmesbury Rewolusie
Ons reis na die Swartland, en verken die Malmesbury rewolusie van wyn met Eben Sadie, Chris Mullineux en Callie Louw. Hulle staan bekend as die “mavericks” van Malmesbury met die top wyne wat in die streek vervaardig word.
RSG Bekbasaar: EPISODE 9: Die Reine Wynheid - Pionier en legende Danie De Wet
De Wetshof is die eerste geregistreerde wynlandgoed in die Robertson-wynvallei. Legende en pionier Danie de Wet van De Wetsof, en Emile Joubert praat oor die ontwikkeling en invoer van kwaliteit plantmateriaal vir die verskillende wynkultivars in Suid-Afrika, en vestiging van De Wetshof as die huis van Chardonnay. Chardonnay word wyd beskou as die wêreld se mees aangeplante en gewilde witwyndruif.
RSG Bekbasaar: EPISODE 7: Die Reine Wynheid en SA se ikoniese ou wingerd
Wat is die oudste wingerd in Suid-Afrika? Rosa Kruger en Nadia Hefer van die Old Vine Project, en Kayleigh Hattingh, wynmaker van Kaapzicht, vertel van die diep gewortelde erfenis van ons ou wingerd, en dat dit waarlik die smaak en kwaliteit van die wyn beïnvloed. Hulle vertel ook van navorsing en internasionale toekennings wat onlangs aan die projek oorhandig is.
RSG Bekbasaar: EPISODE 6: Die Reine Wynheid onthaal soos ‘n sommelier
Jy sal nie glo watter wyn hy in die ateljee oopmaak nie. Dit is só oud, ons mag dit nie meer in Suid-Afrika op sy naam van herkoms noem nie, en word nie meer geproduseer nie. Sommelier Wikus Human, wyndirekteur vir die Marble Hospitality Group, vertel vir Martelize Brink dat hy niks van wyn geweet het nie, Hy het homself opgelei tot 'n WSET vlak 3 kwalifikasie. Hy bring drie geregte met die gepaste wyn, en gee wenke oor hoe jy jou gaste by die huis kan onthaal.
RSG Bekbasaar: EPISODE 5: Die Reine Wynheid se Cap Classique met Bubbles Ferreira
Daar word binnekort regoor die wêreld die proppe van vonkelwynbottels afgeskiet om die Nuwejaar te verwelkom. Pieter "Bubbles" Ferreira kuier in die ateljee. Ons vind uit hoe die benaming, Cap Classique, gekies is, eksperimenteer met vier soorte vonkelwynglase, en ons klink 'n glasie op die 36ste en laaste oesjaar van Bubbles by Graham Beck. Wat lê volgende vir hom voor? Ons hoor ook waar die tradisie van "gesondheid" vandaan kom, en wat Martelize se wyn van die week is.
RSG Bekbasaar: EPISODE 4: Die Reine Wynheid se Corlea en Bertus Fourie
Slegs een oes saam, en die skoot was hoog deur. Dis die storie van die wynmakerpaartjie, Corlea en Bertus Fourie. Sy is die wynmaker vir Bosman Adama, en hy die pa van koffie Pinotage en bekend vir sy deelname aan Kokkedoor Vuur en Vlam. Ons proe Bosman Adama se wyne en gee idees vir jou feestydonthaal. En ja, hulle braai regtig elke aand.
RSG Bekbasaar: EPISODE 3: Die Reine Wynheid se droom van 'n wynplaas in Franschhoek
Hy het op ‘n wynplaas in die Boland groot geword, waar sy ma werksaam was. Die droom as jong seun om eendag ‘n wynplaas te besit, het sy lewenspad gedefinieer. Klein Goederust het wagtend uit Franschhoek geroep, en die droom is uiteindelik bewaarheid. Paul Siguqa se verhaal inspireer as entrepreneur, wynliefhebber en liefdevolle seun, wat een van sy topverkoper wyne na sy ma vernoem het.
RSG Bekbasaar: EPISODE 2: Die Reine Wynheid se Pinotage-sprokie
'n Plantjie wat in die agterplaas van professor Abraham Izak Perold gestaan het, het die pad van Suid-Afrikaanse wyn heeltemal verander, en 'n nuwe trots Suid-Afrikaanse kultivar geskep. Pinotage vier in 2025 sy 100ste bestaansjaar. Die gaste in hierdie episode is Beyers Truter van Beyerskloof en voorsitter van die Pinotage Assosiasie, De Wet Viljoen, ondervoorsitter en wynmaker by Wildekrans, voorheen Neethlingshof, Wilhelm Kritzinger, wynmaker van Bellevue, en Dirk Coetzee, wynmaker van L'Avenir.
RSG Bekbasaar: EPISODE 1: Die Reine Wynheid ontkurk!
Die Reine Wynheid vier die eerste episode met Emile Joubert, ’n wyn-, kos- en kultuurkenner, Armand Ridgard, Suid-Afrika se sommelier van die jaar, en Dalene Fourie, News24-wynskrywer. Martelize Brink gesels met hulle oor hul eerste wyn “a-ha oomblik”, Emile se wyn wat hy as kind probeer maak het met sy wetenskapstelletjie, die nommer 1 wyn wat in die restaurant, Jan in Nice, deur kliënte bestel is, en hoekom die bedryf so belangrik vir Suid-Afrika is. Ons vind ook uit wat Martelize se heel eerste wyn van die week is.
No one likes ads!
Switch to our ad-free tier today and get unlimited access to live TV / Radio, VOD, AOD and Catch Up content with zero commercial breaks.
Save video to ...